Preek:

31 Julie 1994 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Romeine 12

Teks:

Romeine 12:17-21

Tema:

’n Mens moet nie met jou laat mors nie


MET WRAAK EN WEERWRAAK VERNIETIG ONS UITEINDELIK ALLES. SLEGS DIE LIEFDE VAN JESUS KAN DIE GEWELDSPIRAAL BREEK.

Ek het ’n verhaal gelees wat my nogal aan die dink gesit het. Die persoon by wie ek dit gelees het vertel van ’n skrywer‚ ’n ene Gerhard Zwerens‚ wat ’n kortverhaal geskrywe het met die titel: ’n Mens moenie met jou laat mors nie. Dit verloop min of meer soos volg. Twee families woon in twee teenoorstaande woonstelblokke – kom ons noem hulle familie A en familie B. Op ’n dag besluit die vrou van familie A om ’n braaipan by die vrou van familie B te gaan leen. Toe sy egter na etlike maande nog nie die pan terugbesorg het nie‚ begin vrou B om lelike skinderstories oor haar in die buurt te versprei.

Nou dit moes die ore van vrou A bereik het‚ want die volgende dag kom die kinders van vrou B van die skool af terug met oë wat blou en dik geslaan is. U kan goed begryp dat dit tog nie daar gelaat kon word nie. Daardie nag grawe al die lede van die familie B ’n diep gat voor die deur van die woonstel van familie A‚ sodat die arme man‚ toe hy die volgende oggend wil werk toe gaan‚ met ’n aaklige gil in die gat val en sy been breek.

Eintlik ook maar gelukkig vir hom‚ want as hy die gat sou systap‚ sou hy beslis omgekom het in die verskriklike bomontploffing wat sy motor ’n paar sekondes later aan stukke ruk. Dadelik besluit familie A om terug te slaan‚ om vuur met vuur te beantwoord. Hulle begin die woonstel van familie B met lugafweerkanonne bestook. Op hulle beurt antwoord familie B deur ’n klein atoombom netjies tot op die kombuisvloer van familie A te slinger. ’n Onheilspellende‚ paddastoelagtige wolk blom bokant die stad uit en so eindig die verhaal: “Ons is nou wel almal dood; daar is nie meer woonstelle of strate of ’n stad nie. Net ’n grys bruin vlek het oorgebly‚ maar mense‚ ons het ons kant gebring; ons het nie met ons laat mors nie!”

’n Mens weet nou nie mooi of jy moet huil of lag oor die verhaal nie. Miskien moet ons‚ as ons ook maar net ’n bietjie eerlik is‚ veral huil. Ons herken tog hierin in ’n groot mate ons eie lewenshouding‚ ons eie lewensverhaal. Tot ’n groot mate‚ en pynlik genoeg om te sê‚ herken ons ons land se verhaal.

Dit is tog die wet van die wêreld: ’n oog vir oog en ’n tand vir tand‚ nie waar nie? Niemand kom daaruit as wenners te voorskyn nie; net as verloorders. Slagoffers word op hulle beurt weer daders en daders word weer slagoffers‚ en slagoffers word weer daders. So hou dit aan in ’n skynbare nimmereindigende‚ vernietigende draaikolk.

Geen wonder dat baie Suid-Afrikaners wanhoop nie. Ons pas ’n tipe innerlike emigrasie toe. Ons sluit ons af van die samelewing en die buitewêreld. Ons raak stom‚ geskok-passief. Ons gee ons verantwoordelikhede in en vir die samelewing prys. Eintlik gee ons maar boedel oor aan die bose en laat die kwaad maar so eintlik sy gang gaan. Intussen is die getal grafte besig om te groei en te groei en te groei …

Sagmoedigheid is nou eintlik ook nie juis ’n eienskap waaroor mense in die algemeen opgewonde oor raak nie. Benewens die assosiasie met lamlendigheid‚ is daar nog ’n faktor wat maak dat mense nie juis positief dink oor sagmoedigheid nie. Wat hulle betref betaal dit nie. Sagmoedigheid werk nie. Dit word nie beskou as ’n sinvolle lewensmoontlikheid vir ’n mens wat darem iewers wil kom in die lewe nie. Ons sien dit op die sportveld (ek laat nie met my mors nie‚ as jy my nie wil los nie‚ dan byt ek jou sommer aan die oor) in die sakewêreld‚ en miskien die duidelikste in die politieke arena: dat elke mens in die laaste instansie net vir homself wil sorg. Daar word nie genade gegee of gevra nie. Soos dikwels in dié tipe milieu gesê word: “Daar is nie regtig so iets soos ’n gratis maaltyd nie.” Kan hierdie kringloop van geweld wat telkens dreig om ons wêreld te verwoes gekeer word? Ja‚ dit kan‚ want dit is die implikasie wanneer die apostel in vers 21 sê: “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie‚ maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Dit is ’n merkwaardige uitspraak: die apostel weet tog hoe sterk‚ hoe skynbaar onbreekbaar die skakels in die kettingreaksie van die kwaad is.

En hy weet ook hoe swak die mense is vir wie hy skryf‚ dat hulle maar broos is‚ mense van vlees en bloed. Nou nie mense wat ons engele sou kon noem nie‚ mense wat van nature geneig is om geboei en bekoor te word deur die bose. Tog staan dit hier‚ swart op wit: oorwin julle‚ oorwin ję die kwaad met die goeie.

Hierdie gedeelte (vers 17 tot 21) word in ’n pragtige raam geplaas. Die eerste en die laaste vers (17 en 21) stem baie ooreen en het tog ook belangrike verskille. Plaas ons die twee verse naas mekaar‚ sien ons dat die woord “kwaad” in albei (17 en 21) twee keer voorkom en die woord “goed” in albei een keer. Daar is egter ’n interessante verskil. In die eerste vers is daar sprake daarvan dat ons die kwaad kan gebruik of aanwend as betaalmiddel.

Ons word opgeroep om nie die kwaad vir geld (vergeld) te gebruik nie. In die laaste vers is daar egter sprake daarvan dat óns deur die kwaad gebruik kan word. Mens staan immers in diens van die kwaad as jy daardeur oorwin word. Hierin word iets uitgedruk van die verskriklikheid van die kwaad. As jy jou tot kwaad wend om dit te gebruik is dit uiteindelik jy wat deur die kwaad gebruik word.

Neem jou toevlug tot die kwaad en probeer daarmee vergeld en weldra vind jy uit dat jy die slagoffer van die kwaad geword het – dat jy oorwin is! Wat die “goed” betref is daar ook ’n ontwikkeling van vers 17 na 21. In vers 17 word die goed alleen bedink terwyl dit in vers 21 aangewend word. As jy eers begin het om die goeie te bedink‚ word die goeie ook jou wapen of instrument waarmee jy kan oorwin.

Kyk ons nou verder na die inhoud‚ is die eerste opvallende die twee keer wat die uitdrukking “alle mense” gebruik word (vers 17 en 18). Die goedgesindheid waartoe ons opgeroep word‚ mag nie net teenoor vriende en medegelowiges geopenbaar word nie‚ maar teenoor álle mense. Teen niemand mag die kwaad as wapen gebruik word nie. Die goeie moet ten opsigte van almal bedink word. Die eis gaan radikaal teen ons natuur in. Ons is geneig om hulle met wie ons natuurlike en positiewe bande het‚ goed te behandel‚ maar die wat verder af staan en wie ons as vyande beleef‚ volgens die oog-vir-’n-oog en tand-vir-’n-tand-wet te behandel.

Om dit alles nog moeiliker te maak‚ word daar nie van ons verwag om slegs ’n goeie gesindheid teenoor almal te openbaar nie‚ maar om hierdie gesindheid gestalte te laat kry in konkrete dade. In die volgende sinne word twee dinge genoem waarin hierdie goeie gesindheid moet bestaan. Eerstens moet ons in vrede lewe met alle mense (vers 18). Vrede moet natuurlik van twee kante af kom‚ maar hier gaan dit oor jóú optrede. Ons moenie net vrede bedink nie‚ maar daarin lewe!

Die tweede wat genoem word is: “Moenie self wraak neem nie …” Die gedagtegang kom daarop neer dat dit nie binne ons vermoë of bevoegdheid lê om te vergeld nie. Dít is God se terrein. En wat meer is‚ ons kan Hom rustig daarmee vertrou. Ons mag ons nie wreek nie! Ook dit is ongelukkig so deel van ons natuur. As ons tog net iemand kan terugkry‚ al is dit net deur te sê: “Ek het jou mos gesê!”

Nog eens moet ons erken dat hierdie oproepe nie binne ons natuurlike begeerte en vermoë lê nie. Dit is geheel-en-al in stryd met ons normale lewensbenadering. Enige mens wat dink hierdie dinge is maklik‚ het nie mooi begryp wat gesê is nie. Om op te tree soos wat die Bybel hier van ons vra‚ gaan lynreg teen ons grein in. Daarom bestaan daar ’n wesentlike gevaar dat ons hierdie oproepe bloot op die vlak van die absurde gaan plaas.

Dit beteken dat ons dit nie gaan weerspreek nie‚ maar aan die ander kant ook glad nie ernstig opneem nie. Ons vind dit mooi‚ maar trek net ons skouers op en daarmee is die saak eintlik afgehandel. Om hieraan uitvoering te gee‚ so dink ons‚ is buitendien onmoontlik en daarom hoef ek my nie te veel daaroor te ontstel nie. So ’n benadering strook egter glad nie met die gees van ons teks nie. Want die kwaad in die wêreld kan oorwin word deur die goeie. Die wyse waarop dit geskied‚ die wapens‚ die goeie‚ is die liefde.

Opregte liefde wat wil opbou en behou; wat met alle mag vashou aan dit wat goed is. Dit geld van alle verhoudinge waarin ons staan – die huwelik‚ die gesin‚ die gemeente‚ die vriendekring‚ die werk en alle ander verhoudinge. Liefde is nie die een of ander “iets” wat in sommige verhoudinge bestaan en nie in ander nie. Liefde is nie iets wat “oor jou pad kom” en wat jy sommer net op ’n dag kan “verloor” nie – soos mense wat in huwelike ontrou raak soms sê. Liefde is nie iets staties nie‚ maar dinamies.

Elke dag moet daar opnuut téén die slegte in ’n verhouding gekies word en vir die goeie. Jy kan liefde dus nie verloor nie‚ jy kan dit net weggooi uit eie keuse. Paulus gaan verder en sê dat hierdie liefde ook vra dat ons eerbied vir mekaar sal bewys (vers 10). Liefde kan nooit net ’n innerlike gevoel bly nie. Dit moet bewys en daarom gewys word.

Om eerbied te hê‚ beteken om jouself gering te ag en die ander een te verhoog. Gewoonlik doen ons dit net in reaksie‚ met ander woorde ek gee ’n kompliment‚ verhoog iemand se naam‚ praat met respek slegs wanneer dit aan my gedoen is. Hier word ons egter opgeroep om mekaar daarin tot voorbeeld te wees. Ons moenie op mekaar wag nie‚ maar mekaar voorgaan in eerbetoning. Letterlik staan daar ons moet gretig wees om eerbied te bewys.

In vers 11 word dit duidelik dat die liefde nie net vaagweg eerbied betoon nie‚ maar letterlik hardwerkend is vir die medegelowige. Ongelukkig is die begrip “toewyding” ’n bietjie misleidend. Ons verstaan iets geesteliks onder dié begrip. Vroeër jare het die destydse KJV gereeld “toewydingsaande” gehou en dan het dit oor ’n suiwer geestelike saak gegaan. In hierdie vers gaan dit egter oor doodgewone harde werk. Die Good News Bible vertaal dit dan ook met: “Work hard and do not be lazy.”

Die betoning van opregte liefde vra meer as bietjie sentiment‚ dit vra opoffering en nederige‚ harde werk. Hoeveel mense gesels lustig saam oor gemeente betrokkenheid en hoe ontstellend min is werklik bereid om‚ wanneer die geleentheid hom voordoen‚ gewone harde (hande)arbeid te verrig.

Goeie verhoudinge met medemense is eenvoudig deel van ons godsdiens. Ons kan nie die Here wil dien sonder om ons medemens te dien nie. Om aan God eerbied te bewys en om aan ’n medemens – jou bediende‚ jou vrou‚ jou werkgewer‚ jou vriend‚ die ander motoris – eerbied te bewys‚ is uiteindelik deel van presies dieselfde saak. God word nie êrens in ’n kompartement van my lewe‚ weg van ander mense‚ gedien nie‚ maar in die huis‚ aan die tafel‚ in die bed‚ op die pad‚ in die klaskamer‚ op die steier‚ in die vergadering‚ en op elke moontlike plek waar ek met mense in aanraking is. Moenie in julle toewyding verslap nie‚ bly altyd geesdriftig‚ dien die Here (12:11).

Met die liefde kan die kwaad oorwin word; met opregte liefde in jou hart sal jy nie kwaad met kwaad wil vergeld nie. Wat meer is‚ die kwaad is oorwin. Jesus het die dodelike opmars van die dood gestuit toe Hy op die derde dag uit die dood opgestaan het. Hy het‚ by wyse van spreke‚ in die skema van die kwaad ingeklim en dit van binne-af verower‚ dit van binne-af stukkend en oop gebreek.

Dit is die evangelieboodskap wat die Gees sedertdien oor die hele wêreld heen verkondig: die lewe‚ die liefde‚ die goeie. Christus is uit die graf uit!

Juis daarom is hierdie oproep van die apostel Paulus (Moenie kwaad met kwaad vergeld nie) nie ’n leë bevel nie. Dit is nie ’n onhaalbare droom nie. Nee‚ nee. Die kwaad kan gekeer word‚ want die kwaad is gekeer. Die bose kan gestuit word‚ want die bose is gestuit. Die geweld van die goeie is sterker as die geweld van die kwaad!

Geliefdes‚ ons kan wen deur die kwaad en ons vyande te verras; deur anders op te tree as wat hulle sou verwag of sou voorskryf; deur te reageer met liefde‚ met versoening‚ met vrede‚ met die goeie. Die bekende teoloog‚ Dietrich Bonhoeffer‚ skryf aangrypend hieroor: “In die nuwe kringloop van die liefde word die kwade tot stilstand gedwing. Omdat dit nie die weerstand vind waarna dit soek en waarom dit roep nie‚ word dit onvrugbaar gelaat‚ is sy angel uit.”

Hierdie nuwe kringloop van die liefde is ’n gawe van God. En tog moet dit ook sigbaar word in die gesindhede en die dade van mense. Die liefdesaanbod is tegelykertyd ’n liefdesgebod. Die vra die volle inset van ons persoon‚ ons energie‚ ons tyd‚ ons lewe‚ ons alles.

’n Mens kan alleen sag en vriendelik wees met ander‚ in onselfsugtigheid leef‚ gelate wees oor jou regte nét as jy weet dat jou lewe en jou lot in sterk en veilige hande is. Kan dit sterker en met groter krag gesê word as wat Jesus in die derde saligspreking sê: Geseënd is die sagmoediges‚ want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Ervaar jy dié seën of is jy nog lus om klein atoombommetjies na ander te slinger.

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.