Die kort en klein van Midweek kubergroepe
JY is ’n Christen‚ maar vanweë die plek waar jy bly‚ omstandighede of om watter rede ook al‚ voel jy afgesny van die res van die Christelike geloofsgemeenskap. Jy mis die liefde‚ ondersteuning en die omgee van mense wat saam met jou glo. Omgee (fellowship) is tog wesenlik aan die gemeente van Jesus!
Daarom wil Midweek jou die geleentheid bied om by ’n Kuberkleingroep betrokke te raak.
Dit werk so dat jy‚ waar jy ook al in die wêreld bly‚ met Christene in jou omgewing kontak maak. As dit naby genoeg is‚ verkieslik persoonlik met ander gelowiges ontmoet. En indien dit nie anders kan nie‚ om met gelowiges in jou area te e-pos of te skakel.
Indien jy wil‚ moedig ons jou ook aan om ’n kleingroep te begin. Dis ’n wonderlike geleentheid vir groei in jou geloofsbelewing. Dit gee ook die geleentheid om vriendskappe op te bou met ander gelowiges. (Kliek hier as jy meer wil weet hoe dit werk)
Hoekom is kleingroepe net die antwoord vir jou?
Benewens al die ander voordele wat dit gelowiges reg oor die wêreld bied‚ kan die volgende genoem word:
- Kleingroepe skep ruimtes om na God te luister.
’n Kleingroep gee die geleentheid vir gelowiges om in interaksie met die Woord van God‚ die Heilige Gees en met mekaar‚ mooi agter te kom wat God se wil vir hulle saam of individueel is in die plek waar hulle woon.
- ’n Ruimte vir geloofsgemeenskap (koinonia).
Die diepgaande behoefte van mense – ook en veral in ons tyd – om geloofsgemeenskap (koinonia) te beleef‚ word by uitstek in ’n kleingroep hanteer. Dit is ’n manier om op ’n besondere manier te beleef wat dit beteken om in Christus lid te wees van die huisgesin van God.
- Aanspreek van sosio-emosionele behoeftes.
Hier in ’n kleingroep kan die behoefte van aanvaarding‚ liefde‚ “behoort-aan‚” ondersteuning en respek vervul word.
- Oop kanale na en vir die wêreld.
Enige lewende organisme wat slegs op homself gerig en aangewese is‚ is uiteindelik gedoem tot ondergang. ’n Kleingroep van gelowiges sal – per definisie behoeftes raaksien in die gemeenskap en so die Evangelie uitdra.
- ’n Potensiële antwoord vir die ware Bybelse spiritualiteit in hierdie tyd en situasie.
Kleingroeplewe is heelweek-lewe. Dit beteken dat jou Christen-wees nie op die kantlyn van jou lewe sal staan nie‚ maar relevant sal word vir jou daaglikse lewe.
Ons nooi jou uit – Nee! Dáág jou uit – om hierdie geleentheid te gebruik en só te groei in jou geloof en die belewenis daarvan.
Vir meer inligting kliek op die onderste skakels:
|