Afrikaans | English
Weeklikse boodskappe
Evangeliseer - Verwys `n persoon!
Hoekom deel van groep?
Sluit aan / kanselleer
Borg boodskap
Dokumente
Gebedsversoeke
Het jy vrae?
Kontak ons
Verwysings:
Bybel.co.za
Liedboek van die kerk
Die Knoop
Woes - Afrikaans
Radiokansel
Biblaridion
Die Psalms in klank
Ministries Worldwide
Vurk in die pad
Ons Dorp
Infokerk
Taste&See
Christian Answers
Hoekom bybelstudie groepe?


IN die kerklike lewe kom daar‚ veral in die stad‚ weinig van die gemeenskap van die gelowiges tereg. Aangesien dit die wesenlike eienskap van die gemeente van Jesus is‚ moet dit ten alle koste herstel word. Die talle “mekaar”-tekste kan slegs gehoorsaam word waar hierdie lewensgemeenskap ’n werklikheid is. In Hebreërs 10:24 word die gelowiges byvoorbeeld aangespoor om na mekaar om te sien en mekaar aan te moedig. Dit verwys nie noodwendig na ’n byeenkoms nie en veronderstel baie duidelik ’n persoonlike verhouding.

Hoe liefdesbande gebou kan word

Die belangrikste faktor is onderlinge kontak. Daar moet soveel maniere van kontak gebruik word as wat moontlik is; gesinne word aangemoedig om vir mekaar verantwoordelikheid te neem en mekaar gedurende die week te besoek of telefonies te skakel. Dit werk goed om elke week twee ander gesinne so aan mekaar te verbind. Daar moet uitgekyk word vir geleenthede soos verjaardae en ander hoogtepunte waarop gesinne of persone spesiale aandag kan ontvang. Dit is belangrik dat elkeen‚ tot die jongste kind‚ sal besef dat hy of sy aanvaar word en dit sal sien in die manier waarop ander persone met hulle kontak maak. Dit gaan oor liefde; nie ’n emosionele of sentimentele ervaring in die eerste plek nie‚ maar om in diensbaarheid en onselfsugtigheid die ander een se behoeftes in ag te neem.

Liefde is bereid om op te offer en daarom moet die medegelowiges ’n prioriteit wees wat selfs swaarder weeg as ons natuurlike familie.

Liefde neem nie noodwendig baie tyd in beslag nie; die onderlinge weeklikse besoekies of oproepe kan kort wees – net ’n paar minute om na mekaar se welstand te verneem en selfs vir mekaar te bid. Liefde is egter ook bereid om op te offer en daarom moet die medegelowiges ’n prioriteit wees wat selfs swaarder weeg as ons natuurlike families.

Hoekom werk kleingroepe?

Hoe kry ’n kleigroepbediening dit reg om mense se vlak van geloofsbelewing te verdiep?
Ons onderskei die volgende vyf redes:

  1. Kleingroepe skep ruimtes om na God te luister.
  2. ’n Ruimte vir geloofsgemeenskap (koinonia).
  3. Aanspreek van sosio-emosionele behoeftes.
  4. Oop kanale na en vir die wêreld.
  5. ’n Potensiële antwoord vir die ware Bybelse spiritualiteit in hierdie tyd en situasie.

Eerste rede: Kleingroepe skep ruimtes om na God te luister

Die kleingroep is baie beslis ’n ruimte waarbinne hulle mense saam met medegelowiges God se teenwoordigheid op ’n besondere wyse kan beleef en saam probeer agterkom wat die wil van die Here vir hulle lewens is. Die kleingroep help‚ ook om op individuele vlak‚ God se werklikheid in hulle lewens te ervaar en hulle geloof‚ Bybelstudie en gebed op ’n dieper geestelike vlak te beleef.

Christus sê volgens Matt. 18:20 “waar twee of drie in My Naam saam is‚ daar is Ek by hulle.” ’n Deskundige op die gebied van kleingroepe‚ Ralph Neighbour‚ sê: “Wat ’n kleingroep suksesvol maak‚ is nie die teenwoordigheid van ’n begaafde kleingroepleier of kitaarspeler nie‚ maar Christus se teenwoordigheid onder ons.” Die horisontale (mens-tot-mens-) verhoudings in die kleingroep kry sy volle betekenis in die vertikale verhouding‚ naamlik die groep se lewe in die Here se teenwoordigheid.

Die hedendaagse (postmoderne) mens se reaksie teen absolute waarhede wat vir jou gegee word en van bo af op jou afgepreek word‚ kan in die kleingroep aangespreek en as kragte in die regte rigting gebruik word. In die kleingroep word lede nie voorgesê (voorgepreek) wat om te glo nie‚ maar ontdek hulle die waarhede saam uit die Bybel en uit mekaar se getuienisse oor die realisering van die Woord in hulle lewens.

Wanneer gelowiges in kleingroepe hulleself daarop toespits om saam na God te luister en om mekaar te help om sy stem te hoor‚ kan kleingroepe ’n luisterruimte wees. Die rede hiervoor is dat die Gees van God op ’n besondere wyse in die gemeenskap van gelowiges woon (vgl. 1 Kor. 3:16-17; Ef. 2:20-21).

Navorsers het aangetoon dat die gemeente in Korinte na alle waarskynlikheid in kleingroepe in mekaar se huise bymekaargekom het. Of dit so is of nie‚ weet ons nie verseker nie. Wat vir ons wel duidelik is‚ is dat die beginsels in 1 Kor. 14 oor hoe gelowiges mekaar profeties moet opbou‚ ook op kleingroepe van toepassing is. So dui 1 Kor. 14:26 byvoorbeeld op voorbereiding van die bydraes wat gelowiges in die byeenkoms kan kom maak. Tydens die byeenkoms moet die kleingroeplede mekaar se behoeftes in ag neem en sensitief wees vir wat die Heilige Gees deur hulle op ’n verstaanbare manier vir mekaar wil sê. Tydens die byeenkoms kan meer as een persoon die geleentheid kry om ’n bydra te maak‚ maar hulle moet beurte maak sodat alles ordelik geskied. So ’n byeenkoms sal dan tot opbou van die kleingroep en eventueel die gemeente wees (1 Kor. 14:26).

In terme van Bybelstudie vorm die kleingroep ’n gemeenskap van Skrifinterpreteerders. Saam kan hulle na God se Woord luister en biddend vir die lede se lewens interpreteer en toepas. In groot getalle kan ’n gemeente sinvol na een of miskien ’n paar Geesvervulde mense luister en hoor wat God deur hulle vir die gemeente sê. In die kleingroep word interaksioneel na mekaar geluister. Elkeen kan ’n kans kry om te praat en elke groepslid bring sy/haar lewe na die byeenkoms sodat God se lig daarop kan val en sy stem daaroor gehoor kan word. So kan ’n kleingroeplid ook hoor hoe God deur die ander lede met hom of haar praat. Op die wyse kan gelowiges mekaar se geloof onderling verryk en mekaar vir hulle hele lewe in die Here se teenwoordigheid toerus.

Tweede rede: ’n Ruimte vir geloofsgemeenskap (koinonia)

In ’n samelewing met ’n gebrek aan‚ en soeke na diepgaande sorg bied die kleingroeplewe die geleentheid dat gelowiges waarlik koinonia met mekaar kan beoefen. Die mens word as mens raakgesien en begelei om sy medegelowiges lief te hê. So word mense wat individualisties net vir hulleself wou lewe en geneig was om geloofsbelewing te sien as “iets tussen my en God”‚ gehelp om bevry van hulleself die Here se nabyheid saam met ander gelowiges te ervaar.

Geloofsgemeenskap of koinonia is ’n geestelike oefening waarmee gelowiges doelbewus saam met mekaar die teenwoordigheid van God beleef. Dit is ’n direkte en logiese gevolg van ons eenwees met ons verlosser Jesus Christus. Hy is die dinamika van ons gemeenskap met mekaar as medegelowiges omdat Hy ons deur sy Gees as ’n eenheid saamsnoer.

Kleingroepe is een van die wonderlikste maniere waarop jy opnuut bewus word van die voorreg om deel te wees van God se familie. Dit bring ons weer by Joh. 13:35 waar Jesus dit duidelik stel dat sy volgelinge uitgeken moet word aan hulle onderlinge liefde vir mekaar: “As julle mekaar liefhet‚ sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Waar groot getalle en institusionalistiese bedieningsvorme die liefdevolle verhoudinge in ’n gemeente inhibeer‚ is die fokus in die kleingroep soos dit bedoel is om in die gemeente van Christus te wees: op verhoudinge. Die intieme en interaksionele aard van ’n kleingroep sorg dat mense met mekaar van aangesig tot aangesig verhoudinge kan bou. Kleingroeplede kan die groep beleef as ’n verbondsgesin van God waarin hulle nie net tydens kleingroepbyeenkomste nie‚ maar voortdurend (van dag tot dag) in liefdevolle verhoudinge as broers en susters met mekaar meeleef.

In die kleingroepsituasie sien mense mekaar se gawes raak en het hulle ook meer vrymoedigheid om mekaar met hulle gawes te dien. So begin die amp van gelowige te herleef. Gelowiges spoor mekaar aan en help mekaar om met hulle gawes te dien.

Derde rede: Aanspreek van sosio-emosionele behoeftes

Uit ’n sosio-psigologiese hoek kan kleingroepe die volgende behoeftes van mense aanspreek:

  • Die behoefte om aanvaar te word vir wie jy is en nie net vir wat jy doen nie.
  • Die behoefte om iewers te behoort en te kan sê: “dis my mense die.”
  • Die behoefte om te weet daar is mense op wie ek kan terugval (’n “back-up”)‚ mense wat my sal ondersteun en liefhê as ek dit “nie maak nie.”
  • Die behoefte om liefgehê te word en ander te kan liefhê. Een van die mooiste liedere wat mense se behoefte aan liefde verwoord is seker: “love‚ love changes everything.”
  • Die behoefte om te gee en te ontvang en te ervaar ek maak in ’n sosiale opset ’n verskil.
  • Die belewing dat my probleme nie uniek is nie‚ maar dat ook ander of dalk almal in die groep die probleme ervaar.
  • Die geleentheid om te voel dat jy menswaardig is en gerespekteer en waardeer word ongeag hoeveel ek tot die groep kan bydra of nie.
  • Die behoefte om te kan uitvind wie ek is en hoe ek my lewe wil inrig.

As gevolg van die grootte van die kleingroep en die persoonlike aangesig-tot-aangesig karakter daarvan‚ kan mense se mensheid en hulle sosiale en emosionele behoeftes raakgesien en aangespreek word. Wanneer dit gebeur‚ beleef hulle die geloofsgemeenskap (die kleingroep en gemeente) as warm en lewend‚ en die liefdevolle God as naby. Hulle word in sulke omstandighede emosioneel heel en geestelik sterk.

Vierde rede: Oop kanale na en vir die wêreld

Iemand het ons geestelike lewe met die twee see in Palestina vergelyk‚ die Dooie See en die See van Galilea. Die Dooie See het net ’n invloei‚ nie ’n uitvloei nie. Daarom is dit ’n souterige‚ dooierige see sonder ’n wonderlike vis- en plantlewe. Die See van Galilea het ’n invloei en ’n uitvloei en wemel van ’n vis- en plantlewe. So is dit ook met gelowiges‚ kleingroepe en gemeentes: as ons net ontvang en nie gee en uitreik nie‚ raak dit binne ons geestelik doods en vrot!

In die konteks van die kleingroep kan kleingroeplede mekaar help om in hulle alledaagse lewe hulle Christenskap in woord en daad uit te leef. Wanneer die kleingroep ’n gerigtheid (kanale) na buite het‚ kan hulle mekaar help om die behoeftes in die samelewing raak te sien en sowel dienend as getuigend betrokke te raak. Die kleingroep kan ’n veilige hawe wees waarin pasbekeerde Christene opgevang word‚ en kan selfs ook ongelowiges nadertrek sodat hulle in die netwerk van liefdevolle verhoudinge‚ van God se liefde bewus kan word.

Om as gelowige alleen in hierdie wêreld te lewe en staande te bly‚ is feitlik onmoontlik. Daarom het God gelowiges aan mekaar gegee om in diepgaande verhoudings mekaar hiervoor te versterk‚ aan te moedig en toe te rus en vir mekaar te bid (vgl. Heb. 10:24-25; Ef. 6:18-20; asook Hand. 4:23-31). Gelowiges kan mekaar slegs met hulle lewe in die wêreld help as hulle mekaar en mekaar se omstandighede ken en met vrymoedigheid met mekaar daaroor kan praat.

Vyfde rede: ’n Potensiële antwoord vir die ware Bybelse spiritualiteit in hierdie tyd en omstandighede

Ten opsigte van die onsekerhede van die oorgangstyd in die Suid-Afrikaanse samelewing en al die baie veranderinge wêreldwyd‚ soek mense na sekuriteit en geborgenheid. Kleingroepe bied geborgenheid nie net in medemensverhoudinge‚ maar ook ten diepste in die gemeenskaplike verhouding met God. Die geloofsbelewing in die groep kan lewensin‚ perspektief en sekuriteit gee omdat kleingroeplede in hulle omstandighede beleef: “God is saam met ons.” Verder rebelleer die hedendaagse Christen al meer teen ’n hokkie-en-vakkie-godsdiens. Volgens hierdie dualistiese soort godsdiensbelewing pas godsdiens net in party geestelike hokkies en vakkies van my lewe in‚ maar het dit niks te sê vir die res van die praktyk van my lewe nie. Hierteenoor is kleingroeplewe heelweek-lewe en beïnvloed die gebeure in die kleingroepbyeenkoms en Sondag se erediens die lede se totale lewe. So word wegbeweeg van ’n tipe Sondagchristenskap waar iemand op Sondag sy of haar Christenskap beoefen‚ maar die ander dae van die week ver van God lewe.

Op dié manier is Christenwees al minder op die kantlyn van jou lewe‚ maar word dit relevant vir jou daaglikse lewe! So gebeur dit byvoorbeeld dat kleingroeplede mekaar help om die regte besluite neem en dit deur te voer. Of as krisisse opduik‚ kan hulle mekaar help. So is daar byvoorbeeld ’n enkelouer wat haar werk verloor het en waar ander kleingroeplede volledig vir haar en haar kinders gesorg het‚ totdat sy weer werk gekry het. Christene aanvaar in die kleingroep aanspreeklikheid vir mekaar en kan mekaar‚ as mekaar se herders en wagters‚ tot verantwoording roep.

VYF REDES WAAROM GROEPE SOMS NIE WERK NIE

Volgens Coenie Burger en Nico Simpson (Bybelstudiegroepe: Poorte vir die genade) werk kleingroepe dikwels nie omdat die leier slegs op Bybelstudie fokus

  • en die kleingroep nie ’n liefdevolle ruimte of tuiste is waarin groeplede vir mekaar sorg nie;
  • groeplede nie geloof en lewe integreer nie (asof godsdiens en lewe niks met mekaar te doen het nie);
  • groeplede nie self kans kry om nuwe insigte uit die Skrif te ontdek nie;
  • die groep na binne gerig is en nie tot dienslewering bemagtig word nie; en
  • die groep te min tye waarlik op aanbidding en belewing van God fokus.

Hoe verloop ’n kleingroep byeenkoms?

  1. Verwelkoming‚ Ysbreker‚ Omgee en Meelewing (Gelowige tot gelowige)
  • Dit is belangrik dat ons eers op mekaar en mekaar se lewens en golflengtes moet “in zoom” en omgee voor ons op ’n dieper vlak ons geloofsgemeenskap kan beoefen.
  • Laat elkeen in die groep kortliks deel hoe dit gaan en hoekom.
  • In werklik uitsonderlike gevalle kan die groepbyeenkoms hier ophou om uitsonderlike probleme aan te spreek. Andersins kan probleme later in die byeenkoms of na die byeenkoms hanteer word.
  • Deurdat ons van onsself met mekaar deel‚ kom ons lewens by wyse van spreke “op die tafel.”
  • Die boodskap is voorts: “Ek is hier vir jou en aanvaar dat jy hier is vir my – ons help mekaar.”

        ’n Tegniek om te gebruik: laat die groep soms in kleiner groepies opdeel om vir mekaar om te gee en
        te bid.

  1. Aanbidding (Gelowiges saam tot God)
  • ’n Baie belangrike fase wat dikwels afgeskeep word: Nadat ons van mekaar bewus geword het‚ word ons nou van God‚ sy grootheid en liefde bewus.
  • Die groepleier kan soms iets sê soos: “Die Bybel sê: ‘waar twee of drie in die Naam van die Here saam is‚ is die Here self teenwoordig’. Die Here is hier by ons.”
  • Samesang‚ luister na ’n snit op ’n musiek-CD of -kasset‚ lees van aanbiddende gedeeltes‚ en veral gebede kan hier gedoen word.
  • ’n Kleingroeplid met aanvoeling vir gebed kan ook soms in die groep aangewys word om die groep in aanbidding te lei.

  1. Onderlinge opbou (God tot gelowiges)
  • Hier word Bybelstudie gedoen nie in die eerste plek vir verstandskennis nie‚ maar om God‚ sy wese en sy wil te leer ken en die implikasies daarvan na ons lewens deur te trek.
  • Die gedagte is dat lede mekaar met hulle gawes‚ kennis en ervaringe help en ondersteun om die Skrifgedeelte in hulle lewens toe te pas. (Vgl. 2 Tim. 3:16-17; Jak. 1:19-25).

  1. Lewe‚ diens en getuienis na buite (Gelowiges tot medemens)
  • Tydens hierdie fase kan groeplede verslag lewer‚ mekaar raad gee en mekaar versterk vir hulle getuienislewering‚ bv. die bearbeiding van ’n ongelowige vriend‚ buurman‚ kollega of familielid.
  • Tydens hierdie fase kan bespreking gevoer word en voorbidding gedoen word vir gebeure en aktiwiteite in die gemeente en gemeenskap.
  • Sommige groepe neem hier kollekte op vir ’n bepaalde saak en bid saam daarvoor.
  • Die groep kan in hierdie fase ’n aksie saam beplan en bespreek.
  • Dit is belangrik dat groeplede mekaar aanspreeklik hou vir hulle Christelike lewe in die wêreld!

Hoe lank duur ’n kleingroepbyeenkoms?

Oor die tydsduur van ’n kleingroepbyeenkoms is daar nie vaste reëls nie. Sommige groepe kom maklik vir 3-4 ure op ’n slag byeen. Ander beperk hulle byeenkomste tot so min as 30-45 minute. Die gemiddelde tyd vir ’n kleingroep om te vergader‚ is tussen 90 tot 120 minute‚ (Ons praat hier met opset van minute‚ want hoewel meeste predikante in terme van die ewigheid dink‚ dink meeste lidmate as gevolg van ons besige lewe‚ in terme van minute en soms selfs sekondes).

Dit is baie belangrik dat ’n groep hou by hulle onderlinge afspraak hoe laat hulle gaan begin en hoe laat hulle eindig. Dit is voordeliger vir die groep om betyds te begin as om voortdurend vir laatkommers te wag. Verder moet die groepleier toesien dat die byeenkoms op tyd eindig. Uitgerekte byeenkomste ontmoedig hedendaagse lidmate om met volle ywer deel van ’n kleingroep te wees. Wanneer belangrike sake aangeraak word en verdere bespreking nodig is‚ kan die groep die sake liewer op ’n volgende byeenkoms verder bespreek.

Om die groep te help om by hulle afspraak oor tyd te hou‚ stel sommige groepe ’n tydhouer aan.





© 2005 Kopiereg voorbehou.
Ontwerp en Diens Verskaffing deur RAD Developer Solutions cc